
Jy was self 'n kind, en al die helder wete
van bloed en maagdelikheid was in jou oë
jou liefde was 'n suiwer-afgemete
deel van jou aardse blydskap, en die hoë
gang van jou hare en borste teen die wind
was skugter met 'n ver, ou aardse vrees;
jy het die weg van alle vreug gevind,
en waar jy was, moet altyd vreugde wees,
Daarom is jy (in duistere vermoede),
soos in die aarde donker waters staan,
in al my dink, in al my dowwe woede
teen mens-wees en die lot, in al my waan
van mooier dinge, en menslike verdriet:
'n laaste kuil van stilte tussen riet
NP van Wyk Louw
| Louis from South Africa | 6 Jun 2008, 21:45 |